My 2017 het begin soos baie jare voor hom. Moeg. Moedeloos. En elke jaar het ek myself oortuig dat hierdie jaar beter gaan wees, want ek gaan dit en dat en die als doen, en dan gaan my gesondheid beter wees. Sien, die dokters het my vertel dat MS is n lifelong ding, Maar dis manageable, met die regte medikasie en oefening, en natuurlik met baaaaaie positiewe gedagtes kan ek n relatiewe normale lewe lei. En mens stry mos nie met n dokter nie?! Hulle weet mos meer. En bless my familie en vriende, want hulle het so hard probeer ondersteun en raad gee en moed inpraat. Veral in die begin toe ons nou uitvind dis MS wat my so mal soos n haas maak…. Maar soos die tyd aan gestap het, het die goeie dae net herinneringe geword, en die slegte dae het die goeie’s geword, om net plek te maak vir die verrassings dae……. Die dae wat n nuwe simptoom sy verskyning gemaak het.

En 2017 was die jaar wat my baie amper onder gekry het. Ek was 95% van die tyd siek. Baie siek. En my gebed vir 2017 was net om elke dag te kon opstaan. Op my eie 2 pote, en dat ek elke dag darm net my kinders sou kon skool toe vat, en alles doen wat ek moet, sodat my gesin kon funksioneer. Die bare minimum. Soos kos en bad en bid. En as ek vandag kon maak, sal ek more kan maak.

Ek was in Augustus of daar rond saam met my man Tzaneen toe vir die naweek. Hy moes werk, en ons het vriende daar. En net daai ry, van hier tot in Tzaneen, en Sondag weer terug, het my lyf so ore aan gesit, dat ek eers weer Woensdag oggend uit die bed uit op gestaan het. En dit was vir my die lyntjie in die sand. Daai “this is too much” ding. My gebed vir 2017 was om elke dag te kon opstaan. En daar kon ek nie. Ek het so moed opgegee na dit, dat ek begin planne maak het vir selfmoord. Nie gewonder of ek gaan nie, maar begin lysies in my kop maak van wat ek als moet regkry voor ek dit kan doen. Want so kan ek nie die res van my lewe leef nie.

En een Maandag oggend kom oom Jan en Tannie Petro van die kerk gou vir my hallo sê by die huis. So uit die bloute. En ons het bietjie gesels, en oom Jan het vir my gebid. Vir my gesondheid. En ons kuiertjie was bitter vinnig want ek moes alweer  jaag om die seuns by die skool te kry. En oppad skool toe het ek met Die Here gepraat, en Sy Gees het vir my soveel rustigheid gegee, en my oortuig dat hierdie gebeurtenis nie sommer net is nie. En ek het geglo: Nou is ek gesond. En vir 5 weke was ek gesond. Dit was amazing! Maar toe kom die simpel simptome weer terug, en ek was devastated. Instantly weer terug in daai groef van depressie en alles wat daarmee saam gaan.

Maar n vriendin het my genooi na n Bambi kamp in Schoemansdal middle Oktober. Vrek ver om te ry, wat ek op daai stadium nie meer self kon doen nie. Ek kon nie eers meer self na my ma-le se plaas toe ry nie, en dis maar 25km uit die dorp uit. Maar ek het gegaan, en op daai kamp het ek wonderwerk op wonderwerk gesien gebeur. Daar is ek genees van MS. En van depressie. En ek het nuwe hoop en moed en krag gekry. Ek is gedoop, en toe ek uit daai water uitklim, was alles nuut. En van daar af, sien en beleef ek God se hand so duidelik in my lewe, elke dag.

So 2017 was n rowwe jaar. Maar n great een. Want hy het dalk bitter sleg begin, en my gedwing tot op my kniee, soos dit hoort. Maar 2017 is ook die jaar wat God my ten volle genees het. Die jaar wat ek gedoop is, en met Die Heilige Gees gevul is. Dis ook die jaar wat ek en my man weer getroud is. Hoe geseend is ons nie! Dat ons Skepper so baie moeite met ons doen, om ons harte weer sag te maak en ons te verander sodat ons werklik een kon word en as een nou Hom kan dien! Ek prys Die Here vir 2017. Dankbaar in en vir alles!

Ek kan nie wag vir 2018 nie! Want alles gaan next level wees! 2017 los ek nou in my geheue boks, en pak 2018 aan met die kennis en honger en blydskap wat ek ontvang het. Mag ek en almal van ons, hierdie jaar wat kom, ten minste 80% van die dag vol blydkap wees! Net joy! En mag daai happiness soos n veldbrand sal hardloop, en Jesus se lig daardeur versprei en sigbaar word vir almal met wie ons te doen kry. Mag ons alles wat ons uit die Bybel hoor en leer gaan uitleef daar buite, en Sy lig so helder deur ons skyn, dat almal sal wil hê wat ons het. Dit wat ons ontvang het toe Jesus ons vry gekoop het op Golgota.

My inspirasie vers vir hierdie jaar, is JEREMIA 29:11; Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

En ek verwag next level blessings! En voorspoed en deurbrake op elke gebied!

Amen!